AAN: ALLE PROVINSIALE VOORSITTERS
SA BESTUURSLEDE

Nog ‘n jaar het verby gegaan.

Sedert my vorige skrywe het ek darem ‘n paar stukkies e-pos en een faks rakende Tweekamp ontvang. Dit is nou vanaf Bestuur. Die faks was ‘n rekening van Dave van der Walt vir uitgawes van die ontwikkelingsspan wat ons betaal het. Dan het ons die e-pos ontvang vanaf Archie Markgraaff rondom die SA Kampioenskappe waar hy ons inlig omtrent moontlike akkommodasie. Verder het ek ‘n inligtingsstuk van Phillip Entres, voorsitter van Limpopo Tweekamp ontvang waarin hy my meedeel dat hy en sy vrou Rita herkies is as voorsitter en sekretaresse van hulle provinsie. Baie geluk aan hulle! Phillip het verder rapporteer dat drie plaaslike byeenkomste op drie verskillende plekke in die Limpopo gehou is met uitsonderlike goeie deelnemersgetalle. Phillip is so opgewonde daaroor dat hy voorsien dat Limpopo ‘n volle span na die SA Kampioenskappe in Bloemfontein sal stuur. Hou so vol Phillip! Dan het ek ‘n uitnodiging vanaf Bertie de Clerck ontvang waarin ek ook uitgenooi word om die Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms wat Mpumalanga aanbied in Nelspruit op 16 Januarie 2010 by te woon. Ek het vir die uitnodiging geskimp toe ons laas in die Paarl Tweekamp gehou het. Ek het reeds aan Bertie aangedui dat ek D.V. die byeenkoms sal bywoon. Ek sien baie uit daarna. Soos gewoonlik is ek op hoogte gehou met die interessante bedrywighede van WP Tweekamp via Marius en Louise Vorster.

Ek wil hierdie kort omskrywe afsluit op ’n persoonlike noot. Soos die jaar tot ’n einde gekom het, het my loopbaan as ’n aktiewe Regter ook tot ’n einde gekom. Daar is reeds formeel van my afskeid geneem en my laaste dag op kantoor sal 15 Desember 2009 wees. Dit bring ‘n aktiewe loopbaan van 22 jaar op die regbank tot ‘n einde. Sedert 1 Maart 1999 was Larna Herman my sekretaresse. Die hele SA Tweekamp weet van haar. Behalwe die vragte amptelike werk wat ek aan haar gegee het en uitsprake wat sy vir my mos tik het sy nog kans gesien om die grootste deel van my persoonlike sekretariële werk nie net vir SA Tweekamp nie, maar ook vir OP Tweekamp te doen. SA Tweekamp sê baie dankie aan haar daarvoor. Hierdie is die laaste Tweekampbrief wat sy vir my gaan tik. Ek gaan Larna baie mis.

Aangesien ek my kantoor gaan ontruim sal ek nie in die vervolg meer enige e-pos hier kan ontvang nie. Verwyder asseblief onmiddellik die chrjansen@justice.gov.za adres van julle adreslys en stuur alle korrespondsie in die toekoms asseblief slegs na my huisadres chriselm@lantic.net. Aan almal van julle ‘n baie Geseënde Kersfees en ’n baie voorspoedige Nuwe Jaar. Ek hoop dit gaan goed met julle persoonlik in die toekoms asook met ons geliefde sport Tweekamp in julle onderskeie Provinsies.

Tweekampgroete
__________________
CHRIS JANSEN
PRESIDENT