Die Highgate Eden Tweekampspan het die seisoen op ‘n hoë noot afgesluit met hulle deelname aan die RB & SON SA TWEEKAMP KAMPIOENSKAPPE wat op 1 en 2 April 2022 in Gqeberha [PE] in reënerige toestande afgehandel is. ‘n Rekordgetal van 865 atlete van 14 provinsies het deelgeneem en atlete tussen 8 en 78 jaar het die groot skare vergas op top prestasies!

Die Edenspan het gewys dat tenspyte van hulle behoeftes aan meer senior atlete, hulle saam met die groot provinsies steeds hul stem kan dik maak. Die spankompetisie is gewen deur WP, Boland tweede, OP derde en EDEN in ‘n goeie vierde plek – dieselfde uitslag as by die Highgate Interprovinsiaal vroeër vanjaar op Oudtshoorn!  Van die klein provinsies het EDEN die beste gevaar deur met provinsies soos Guateng Noord, Sentraal Guateng, OVS, KZN en Noordwes af te reken!

EDEN spog ook met 2 SA Kampioene – Benjamin Bond [S/09] en Annabel Grutter [D/13]! Buiten hierdie goue medaljewenners het Johan Windt [M60+] ‘n silwer en De Wit Botma, [Junior Mans], ‘n brons medaljes veroewer.  Petro-Marie Fourie [D/19], Mandi Wallace [M60+], Marilyn Orren [M70+] en Mike McDonald [M70+] die podium net-net gemis met hulle uitstekende 4de plekke!  Die volgende atlete kan tevrede voel om onder die top 10 in Suid-Afrika te tel:  Hendrik Visser [5], Leandré Botes [5], Warnu Haasbroek [6], Cliff Wallace [6], Caleb Coates [7], Mia Hugget [7], Gavin Gericke [7], Melissa Kuun [8], Herman Spangenberg [8] en Zaan van Goeverden [10].  In die proses is 18 nuwe Eden rekords verbeter!

Ook op skolevlak het Eden hulle staal gewys waar nie minder nie as 6 skole – die meeste van alle provinsies, gekwalifiseer het om deel te neem! Baie geluk aan Hoërskool Outeniqua wat aangewys is as die wen-hoërskool – Kwaggas is die beste tweekamp hoërskool in Suid-Afrika!

Om die kroon te span op ‘n baie goeie seisoen, is Benjamin Bond ook aangewys as die Junior Victor Ludorem van die byeenkoms – voorwaar ‘n prestasie om die beste junior seuns-atleet te wees!

Yvonne McKay, ou staatmaker vir Eden Tweekamp, is ook vereer deur SA Tweekamp met die Honoris Causa-toekenning vir uitsonderlike diens gelewer aan tweekamp in Suid-Afrika! Ook die voorsitter van Eden Tweekamp, Stephnie McKay, is weer as nasionale keurder herkies. Baie geluk aan julle!

SA2023 is aan die WP toegeken. Meer besonderhede sal later verskaf word.

Eden Tweekamp wil ook van hierdie geleentheid gebruik maak om die Eden Bestuur, die atlete, hulle ouers, die beamptes, die borge en donateurs, die media en alle ondersteuners hartlik te bedank vir hulle passie, ywer en ondersteuning die afgelope seisoen!  Sonder julle is ons mooi gesinsport net nie moontlik nie!

HIGHGATE Edenspan

Yvonne McKay ontvang toekenning van SA Tweekamp President, Blackie Swart

Eden se kapteine – Hendrik Visser en Petro-Marie Fourie

Benjamnin Bond – goue medaljewenner en SA Kampioen

Estrie Bezuidenhout – silwer medaljewenner

HS Outeniqua – SA Hoërskole Kampioen en goue medaljewenner saam met hulle afrigter Estrie Bezuidenhout

Benjamin Bond – Junior Victor Ludorem SA2022