Nadat Covid pandemonium gesaai het onder sport, en veral Tweekamp, die afgelope jaar met twee SA Kampioenskappe [albei vir Oudtshoorn geskeduleer!] wat gekanselleer is, het die 2021-seisoen op ‘n laat stadium die groen lig gekry en kon ‘n verkorte liga-program gevolg word.  Die seisoen het dan ook later geëindig as gewoonlik en op 6 April 2021 is die EDEN Kampioenskappe onder streng Covid protokol op Oudtshoorn aangebied.

Nie minder nie 120 atlete het dit bygewoon – selfs atlete uit die Boland en WP!  Die hoogtepunt was sekerlik die twee SA rekords wat verbeter is!  Thomas van der Merwe van Paarl Gimnasium Laerskool het die seuns 0/11 rekord verbeter na 2459 punte terwyl Eden [George] se eie Dr Mike McDonald die SA rekord vir Senior Meesters Mans [70+] verbeter het na 2414 punte!  Baie geluk aan beide hierdie top atlete!  Medaljes is na die kampioenskappe na die onderskeie klubs en skole gestuur om intern te oorhandig aangesien medalje-parades nie volgens Covid protokol mog plaasvind nie.

Graag wil die EDEN Tweekampbestuur alle atlete, beamptes, skole, klubs en gewillige [en gedienstige] ouers bedank vir hulle optredes onder bitter moeilike omstandighede – dit word opreg waardeer!