TWEE SA REKORDS BY HIGHGATE
Die 27ste DCAS/HIGHGATE/GROTER OUDTSHOORN INTERPROVINSIALE TWEEKAMPBYEENKOMS het Saterdag 3 Februarie 2018 op Oudtshoorn in puik weersomstandighede plaasgevind. 512 atlete van 7 provinsies [WP, Boland, SWD. OP, GW, Grens en VS] het mekaar die stryd aangesê en tweekamp van top gehalte is opgedis. Twee SA rekords asook 8 byeenkoms rekords is verbeter. Die spankompetisie is weer deur WP gewen met Boland tweede en SWD derde. Nie minder nie as 3 swemmers het onder ‘n minuut gedraai met SWD se Gustav Schlechter in ‘n skitterende 57,03! SWD spog dan ook met 12 medaljes en Ruben Gouws [S/9] is aangewys as die Junior Victor Ludorem van die byeenkoms! SWD se medaljewenners was:
Karli Lotter D/9 Silwer
Ruben Gouws S/9 Goud
Matthew van Coller S/13 Goud
Gustav Schlechter S/17 Goud
Lara Schlechter D/19 Brons
Andre Kleynhans S/19 Silwer
Chris van Wyk Vet Mans Goud
Marius Schlechter Sen Vet M Silwer
Edie Lutsch Meesters D Silwer
Johan Windt Meesters M Silwer
Minke J van Rensburg Gestremd Goud
Marlé van Wyk Gestremd Goud
Tydens die opening van die byeenkoms Saterdagoggend het die Uitvoerende Burgermeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, beklemtoon dat die stadsraad alles in hulle vermoë doen om Oudtshoorn aantrekIik te maak vir sportkodes om hulle nasionale byeenkomste na Oudtshoorn toe te bring en het hy SWD Tweekamp in die besonder bedank vir hulle ondersteuning daarin. In haar toespraak tydens die prysuitdelingsfunksie die aand, het die Weskaapse Minister van Kultuursake en Sport, Anroux Marais, dit gestel dat dit een van haar departement se prioriteite is om sport op die platteland te bevorder en talentontwikkeling te stimuleer.
In ‘n pragtige gebaar het die suidelike provinsies die pas-uitgetrede voorsitter van SWD Tweekamp, Dave van der Walt, vereer vir dit wat hy vir tweekamp in Suid-Afrika gedoen het, maar in die besonder vir tweekamp en sport in die algemeen in SWD. Hy is as voorsitter opgevolg deur Stephnie McKay.
Johan Keller van Highgate
het ook die aankondiging gemaak dat lokaal
op Highgate ingerig gaan word om al die trofeë van hierdie byeenkoms, maar ook die van SA Tweekamp, uitgestal gaan word. Die aand is afgesluit waar 470 atlete, ouers, beamptes en gaste getrakteer is op ‘n heerlike braai en dans.
Dave van der Walt het ook genoem dat hierdie jaarlikse byeenkoms ‘n ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn van ongeveer R3,4 miljoen beteken. Sonder borge en donateurs is dit net eenvoudig nie moontlik nie en word Highgate Volstruisvertoonplaas, die Departement van Kultuursake & Sport, Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Sportmanwarehouse, KKI, Oudtshoorn Ford, Kangogrotte, Pioneer Foods, SASKO , die gedrukte media en Eden FM in die besonder bedank.
Tydens die opening die oggend het Dave van der Walt ook die stelling gemaak dat daar nêrens in Suid-Afrika ‘n dorp is wat kan spog met die sportfasiliteite van die kaliber wat Oudtshoorn bied nie – en as daar dalk een is wat sy hand wil opsteek, hoor ons graag van hom!