Die afgelope 2 jaar was Kapasiteitsbou deel van SWD Tweekamp se visie. Die kwynende vrywillersbasis vir veral beamptes by byeenkomste, het ‘n algemene tendens geword – nie net by tweekamp nie, maar byna alle sportsoorte word daardeur geraak. SWD Tweekamp moes toe ook kreatief begin dink en daar is besluit om veral op hoërskoolleerders te konsentreer om die vakuum te probeer vul! Vanjaar het SWD Tweekamp, met die ondersteuning van die Weskaapse Departement van Kultuursake en Sport [DKES], die visie verder verbreed en is gestremde persone ook by die Kapasiteitsbou-werkswinkel ingesluit.

 Op Dinsdagaand 2 Augustus 2016 het SWD Tweekamp ‘n kapasiteitsbou werkswinkel gehou om veral beampteskap onder leerders van skole en gestremde persone te laat posvat en sodoende die tekort aan beamptes te probeer teenwerk. Nie minder nie as 38 persone die werkswinkel bygewoon wat by die EDEN Sportakademie op Oudtshoorn aangebied is.   Abri de Swardt, bekende in die atletiekkringe, Sureta Badenhorst van EDEN Aquatics, en Dave van der Walt van SWD Tweekamp was die aanbieders.

 In sy openingsrede het Dirk van der Westhuizen van die DKES [Eden] kantoor, die pleit gerig dat al hierdie kursusgangers hulle volle gewig by byeenkomste sal ingooi. Hy het ook gewaarsku teen die talle versoekings wat soms op die pad van beamptes gekom. Hier het hy verwys na korrupsie, dwelms, oneerlikheid en partydigheid. Hy het ook SWD Tweekamp geloof vir hulle volgehoue pogings om dié sportsoort te ontwikkel. Dave van der Walt het die werkswinkel eers op ‘n Powerpoint-aanbieding deur tweekamp as ‘n sportsoort geneem waar veral op die pligte van die beamptes gekonsentreer is. Dit is opgevolg deur ‘n teoretiese en praktiese sessie oor hoe tydhou moet geskied deur Abri de Swardt. Na ‘n heerlike warm aandete in ‘n koue Oudtshoorn, het Sureta Badenhorst die swemafdelings hanteer. Elke deelnemer het ‘n sertifikaat ontvang wat deur die Vise-voorsitter van SWD Tweekamp, Godfrey McCallum, aan hulle oorhandig is.

Indien daar enige persoon is wat belang stel om op beampte-en administrasievlak by tweekamp betrokke wil raak, kan hulle gerus vir Dave van der Walt kontak by 082-773401 of davesus@telkomsa.net