Die HIGHGATE SWD Tweekampspan is terug vanaf die 41 ste SA TWEEKAMP Kampioenskappe die afgelope naweek in Bloemfontein. Meer as 660 van die Suid-Afrika se top tweekampatlete van 14 provinsies het daar meegeding om die kroon as die beste atleet in hulle ouderdomsgroepe. Die WP het hulle nasionale spantitel met welslae verdedig met die gasheerprovinsie, Suid-Vrystaat in die tweede plek en Gauteng-Noord derde. SWD het in die 6 de plek geëindig – die beste van die kleiner provinsies! SWD se seniors het vir ‘n groot verassing gesorg deur vierde te eindig.

SWD se groot ster was ongetwyfeld Johan Windt [Mans Meesters]. Hierdie boorling van Mosselbaai het tenspyte van ‘n dyspierbesering ‘n nuwe SA Rekord van 2433 punte opgestel. Dit was veral sy swem [34,77] wat hom gehelp het – hy het sy beste tyd verbeter met 4 sekondes! Johan is ook aangewys as die Senior Victor Ludorum van die SA Kampioenskappe!

Ook Chris van Wyk [Senior Veterane – 2304 punte] het ‘n silwer medalje huis toe gebring en Gustav Schlechter die brons medalje [S/17] met ‘n punt van 2346. Ander puik prestasies was gelewer deur:
Yvette Borrett Dames Veterane 4de 2375
Luca Potgieter S/11 7de 2143
Ludik Muller S/13 9de 2227
André Kleynhans S/17 8ste 2258
Bernard Zaayman Junior Veterane 10de 2029
Marius Schlechter Senior Veterane 6de 2085
Kurt Tohermes Mans Meesters 4de 2297 [besoekende Duitse gas-atleet] Lara Schlechter D/17 6de 2274
Tanya Osborne Dames Veterane 7de 2312

SWD het ook 5 atlete met gestremdhede ingeskryf en hulle het puik gedoen. Jannie Lourens was die beste mans-atleet en Michelle Lombard die beste dames-atleet.

Sante Fe Spur, Karoopot en Brians Grill het aanmoedigingspryse aangebied en die volgende atlete het daarmee weggestap:
Senior Mans Johan Windt
Senior Dames Yvette Borrett
Junior Mans Gustav Schlechter
Junior Dames Lara Schlechter

Dit bring ook die 2016 tweekampseisoen tot ‘n einde. HIGHGATE SWD Tweekamp wil net baie dankie sê aan al die borge en donateurs wat hulle die afgelope seisoen ondersteun het. So ook aan al die skole, klubs, afrigters, beamptes, media en ouers! Die nuwe seisoen begin weer 1 September 2016!

Dave van der Walt
Voorsitter