Ek verwys graag na die afgelope DCAS/HIGHGGATE/GROTER OUDTSHOORN Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms die naweek van 12 Februarie op Oudtshoorn.

Soos almal seker weet het ‘n welkome reën [met gepaardgaande donderbuie] Oudtshoorn verras!  Alhoewel die 600+ atlete, alle Oudtshoorn-inwoners en talle toeskouers die reën vrwelkom het, het dit ook logistieke uitdagings wat infrastruktuur insluit, vir die organiseerders gebring!  En dis hier waar ek ‘n pluimpie [en groot waardering!] vir die eienaars van Highgate Volstruisplaas, Johan en Viljee Keller, vir Nellie Burger as funksie-organiseerder en al die werkers op Highgate, wil gee.  ‘n Donderstorm het Highgate en Volmoed Saterdadmiddag getref en toe ek 16:30 op Highgate aankom om net die finale reëlings te koordineer, loop ek my vas in storm-chaos! Geen elektrisiteit, bome wat omgewaai het, water wat die saal oorspoel het, take wat die hele terrein vol lê – en dit waar die prysuitdeling om 19:00 moet plaasvind en waar amper 500 mense daarna moet braai!  My moed het sommer in my skoene gesak en om ‘n alternatiewe venue te vind binne twee ure vir so ‘n groot groep is net nie moontlik nie!  Op my woorde aan Viljee was “wat nou?’ antwoord hy net kort “ons gaan aan!”  Al wat ‘n werker op Highgate het met besems, kruiwaens en grawe ingespring en nodeloos om te sê, stiptelik 19:00 was ons gereed om voort te gaan.  Hoe Nellie en haar kombuispersoneel nog steeds ‘n vyfster-ete aan die gaste voorgesit het, sal net sy weet!  Ek dink bitter min venues sou dit kon hanteer en wil EDEN Tweekamp net hulde bring aan die ongelooflik behulpvaardige, vriendelike en omgee-mense op Highgate!  Julle was eenvoudig net AWESOME!