Die 2019 HIGHGATE EDEN Tweekampspan van 72 atlete het op die 44ste SA Kampioenskappe in Port Elizabeth teen 827 atlete van 14 provinsies deelgeneem en puik gedoen!  Dit het plaasgevind by die puik fasiliteite van die NMU atletiekbaan en die Newton Park-swembad. Die gehalte van die vertonings van die atlete was werklik hoog vanjaar.  OP Tweekamp was die gasheer provinsie en het heelwat nuwe tegnologiese inisiatiewe daar gestel.  EDEN Tweekamp verwerf 5 medaljes, die 4de plek in die Junior en 5de plek in die Senior afdelings. Boonop word EDEN aangewys as die 4de beste Tweekamp-provinsie na WP [wenners], OP en Boland!  In die proses reken EDEN Tweekamp af met groot provinsies soos Guateng-Noord, Sentraal Guateng, Vrystaat, Noordwes,  KZN en Limpopo!

EDEN se medaljewenners was Johan Windt [Meesters Mans – GOUD & SA Rekord], Reynard Janse van Rensburg [S/17 – SILWER] en Tanya Osborne [Veterane Dames – BRONS], Damian Smith [Spesiale Behoefte-atlete – GOUD] en Minke Janse van Rensburg [Spesiale Behoefte-atleet – GOUD]. Minke se 36.19 in die 50m vryslag swem is meer as 1 sekonde vinniger as die huidige Downsindroom Ope Wêreldrekord wat tans gehou word deur die 29-jarige Brasiliaan, Dunia Camacho.  Ander atlete wat ook puik presteer het, is André Kleynhans , Anlizé Vermeulen en Edie Lutch [almal 4de], Pieter van der Mescht [5de] en Cliff Wallace [6de]

In die skole kompetisie het HS Outeniqua ‘n 4de en HLS Oakdale 7de plek in die Hoërskole afdeling behaal en in die Laerskole afdeling het Knysna Primêr ‘n 10de en Plettenbergbaai Primêr 11de plekke behaal.

Die kampioenskappe het ook nie sonder sy kwota uitdagings gegaan nie – van die EDEN [ook WP en BOL] se atlete en ouers is voorgekeer tussen Knysna en Plettenbergbaai deur betogings. Hulle moes terugkeer en die lang pad deur die Langkloof ry. Dit het veroorsaak dat hulle laat was vir die opening-seremonie!

Tydens die prysuitdelingseremonie is die SA Tweekampvlag amptelik deur OP aan EDEN oorhandig in ‘n simboliese seremonie. Die vooristter van Eden Tweekamp, Stephnie McKay, het dit ontvang.  EDEN Tweekamp bied in 2020 die 45ste SA Kampioenskappe in Oudtshoorn aan.  EDEN Tweekamp [toe nog SWD] het dit ook suksesvol in 2001 en 2013 aangebied.

Dit bring nou die 2018/19 seisoen tot ‘n einde en wil die bestuur van EDEN Tweekamp alle rolspelers, atlete, ouers, skole, klubs, beamptes, borge, donateurs en die media net hartlik bedank vir hulle bydrae – sonder hulle kon die seisoen nie so suksesvol afgesluit word nie!